a


Pere is nie die ideale stapelvoedsel nie
(gepubliseer in Vonk Musiektydskrif)
 

Dit het al jonk begin, hierdie vermoë van my om my naam in die openbaar te vergat….
Ek is nou al so gewoond daaraan dat ek nie eens meer bang is daarvoor nie (en dít, reken my vriend Willie Strauss, is juis een van my beter kwalitieite – dat dit my glad nie met vrees vervul nie, veral as mens dink hoe gereeld ek dit doen). Ek dink hy sien dit as “wie nie waag nie nie, wen nie”, maar om eerlik te wees; dis sommer net aan my verstrooidheid te weite, ek beplan eerlikwaar nie altyd hierdie dinge nie…

Dis nie asof ek regtig gedink het toe ek op Technikon vier pere voor ‘n repetisie opgevreet het en die hele produksie groep van “Mattewis en Meraai” vergas het nie. Sarah Theron (Meraai), wat bietjie verder weg as die res op die verhoog geplaas was, het dit nie op daardie oomblik snaaks gevind toe almal, in die middel van haar smart oor Mattewis se dood, uitbars van die lag nie.

Ek self het dit ook nie op daardie oomblik snaaks gevind toe ek op skool, tydens my band se eerste optrede by ‘n sokkie, neer ploeter en my broek in die proses oopgaan nie. As ek egter nou daaraan dink, is dit dalk meer embarrassing dat ek in daai dae hoë-hak skoene en ‘n wit broek, wat met druk-knopies toemaak, gedra het.

Partykeer is daar wel method in die madness, soos die keer toe ek vir my derdejaar monoloog-eksamen ‘n aartappel met ‘n broekiekous op my kop vasgebind het. Die idée was om die karakter se geloof in boere rate te weerspieël, maar dit het baie gehelp om die aandag daarvan af te trek dat ek nie honderd persent woordvas was nie.

Soms verwag ek selfs om my naam gat te maak, soos toe ek vir Weakest Link ingeskryf het, maar dit bewys weereens dat die kuns van jou naam gat maak nie iets is waarvoor jy kan beplan nie: Ek dink Fiona het vinnig die Kamakazi in my raak gesien en om te keer dat ek die hele program se inhoud vervlak, my nie te veel uitgelok nie. My paar idiotiese antwoorde was seker genoeg vir haar.

Ander kere is die gatmakery heeltemal buite my beheer. So gebeur dit dan dat ek, ná jare van vir ‘n baas werk, weer besluit om te begin optree en met my tweede optrede, my verskyning uit die toilet maak….. Jy sien, my agent, wat ook die klank vir die aand gedoen het, besluit skielik om my en die ander sangers voor te stel, sonder waarskuwing en sonder dat hy besef dat ek op daai stadium in die toilet is (wat se deur toevallig reg langs die verhoog is). Hier in mid-stream hoor ek net my naam, gevolg deur stilte…gevolg deur “PlatAnna, waar’s jy?” Ek ruk op en zip toe, maar daar is geen manier wat ek die kettings-en-kraletjies gordel wat ek aangehad het betyds vas kry nie en storm maar so vashou-vashou daar uit met “Hier’s ek en alles wat moet toe wees is toe!!”
Profetiese woorde…want ek is nou al twee keer bespreek vir optredes waar daar besonder baie mans was wat deur die loop van die aand wou weet wanneer ek dan nou gaan strip (hulle is wragtie nog vreesloser as ek)….Laat ek dit dus sommer nou weer kategories stel: “PlatAnna” is nie bedoel om ‘n suggestiewe verhoognaam te wees nie, dis bloot omdat ek so plat op die aarde is (ek dra lankal al nie meer hoë hakke nie en met my spesiale vermoëns in naam-gat-maak, maak dit nie sin om aansitterig te wil wees nie).

Aangesien ek ‘n ewige optimis is, wat altyd probeer om die beste in ‘n slegte ding te sien, moet ek dus wonder wat die voordele hieraan is. Ek kom tot die gevolgtrekking dat die gatmakery dalk een van die redes is dat mense dink ek is snaaks (jy weet nou egter van beter), maar die grootste voordeel lê in my noodgedwonge tekort aan vrees vir naam-gat-maak. Hoekom dink jy het ek die guts om aand na aand op die verhoog te klim, te sing, nonsens te praat en selfs (as ek regtig braaf voel) kitaar te speel? Ek het (nie net die heupe nie, maar ook) ‘n vel dikker as ‘n renoster s’n ontwikkel en dis nie ‘n slegte stukkie gereedskap om in die boks te hê as jy ‘n uitvoerende kunstenaar is nie…

Die mense in Paul Roux het my selfs, na ‘n jaar, vir nog optredes genooi, ten spyte van die feit dat ek en Die Man seker nou nog die rekord hou vir naam-gat-maak in daardie dorp……..Wil jy regtig weet?......Goed…….ek haal toe mos die finale van die Sandsteen Fees Liedjieskryf Kompetisie in 2004 en moet by die gala-aand my liedjie sing. Daar aangekom, doen ons ‘n klanktoets, wat bietjie langer vat as beplan (en wat my ook laat vermoed dat ek in is vir nog ‘n naam-gat-maak sessie toe ek agterkom dat Karen Hougaard en André Michael die ander finaliste is). Die dame, by wie ons oorbly en moes gaan aantrek voor die vertoning, verduidelik mooi vir my waar haar gastehuis (net buite die dorp) is. Sy sê dat die sleutel van die plek in die deur hang, ons kan net ingaan (die misdaad-syfer is beslis laer as in Gauteng). Ons jaag, met 45 minute oor voor ons weer by die saal moet aanmeld, om te gaan aantrek. Nou ja, ek is vreeslik lief vir die Vrystaat, maar met alle respek, die een stofstraat en bultjie lyk nes die ander en toe ons by die derde sandsteen-huis met ‘n rooi dak kom en ‘n sleutel in die deur kry, begin ons uitpak. Na ons die aand se klere in die kas gehang het, storm ek stort toe, om agter te kom dat daar geen stort is nie. Ek bel die vrou en sy sê: ”Nee, ek weet nie in wie se huis julle is nie, maar die regte een is ‘n kilometer terug”. Ons gryp so gou ons kan ons goed en sluip ongesiens daaruit, kry die regte plek ‘n kilo terug, stort en begin aantrek. Toe Die Man egter sy pak soek, is dié nie in die tas nie….en ons besef dit hang heelwaarskynlik nog in die vreemde mense se plek (wat nie eens weet ons was daar nie). Ek kan net dink wat die arme ou, wie se plek dit was, se eerste gedagtes was toe Die Man aan sy deur klop en sê: “Ekskuus tog, jy ken my nie, maar my pak klere hang in jou kamer….”

Webontwerp deur Gypsy Productions. Kopiereg op alle inhoud - PlatAnna 2006