|
Dit het al jonk begin, hierdie vermoë van my om my naam
in die openbaar te vergat….
Ek is nou al so gewoond daaraan dat ek nie eens meer
bang is daarvoor nie (en dít, reken my vriend Willie
Strauss, is juis een van my beter kwalitieite – dat dit
my glad nie met vrees vervul nie, veral as mens dink hoe
gereeld ek dit doen). Ek dink hy sien dit as “wie nie
waag nie nie, wen nie”, maar om eerlik te wees; dis
sommer net aan my verstrooidheid te weite, ek beplan
eerlikwaar nie altyd hierdie dinge nie…
Dis nie asof ek regtig gedink het toe ek op Technikon
vier pere voor ‘n repetisie opgevreet het en die hele
produksie groep van “Mattewis en Meraai” vergas het nie.
Sarah Theron (Meraai), wat bietjie verder weg as die res
op die verhoog geplaas was, het dit nie op daardie
oomblik snaaks gevind toe almal, in die middel van haar
smart oor Mattewis se dood, uitbars van die lag nie.
Ek self het dit ook nie op daardie oomblik snaaks gevind
toe ek op skool, tydens my band se eerste optrede by ‘n
sokkie, neer ploeter en my broek in die proses oopgaan
nie. As ek egter nou daaraan dink, is dit dalk meer
embarrassing dat ek in daai dae hoë-hak skoene en ‘n wit
broek, wat met druk-knopies toemaak, gedra het.
Partykeer is daar wel method in die madness, soos die
keer toe ek vir my derdejaar monoloog-eksamen ‘n
aartappel met ‘n broekiekous op my kop vasgebind het.
Die idée was om die karakter se geloof in boere rate te
weerspieël, maar dit het baie gehelp om die aandag
daarvan af te trek dat ek nie honderd persent woordvas
was nie.
Soms verwag ek selfs om my naam gat te maak, soos toe ek
vir Weakest Link ingeskryf het, maar dit bewys weereens
dat die kuns van jou naam gat maak nie iets is waarvoor
jy kan beplan nie: Ek dink Fiona het vinnig die Kamakazi
in my raak gesien en om te keer dat ek die hele program
se inhoud vervlak, my nie te veel uitgelok nie. My paar
idiotiese antwoorde was seker genoeg vir haar.
Ander kere is die gatmakery heeltemal buite my beheer.
So gebeur dit dan dat ek, ná jare van vir ‘n baas werk,
weer besluit om te begin optree en met my tweede optrede,
my verskyning uit die toilet maak….. Jy sien, my agent,
wat ook die klank vir die aand gedoen het, besluit
skielik om my en die ander sangers voor te stel, sonder
waarskuwing en sonder dat hy besef dat ek op daai
stadium in die toilet is (wat se deur toevallig reg
langs die verhoog is). Hier in mid-stream hoor ek net my
naam, gevolg deur stilte…gevolg deur “PlatAnna, waar’s
jy?” Ek ruk op en zip toe, maar daar is geen manier wat
ek die kettings-en-kraletjies gordel wat ek aangehad het
betyds vas kry nie en storm maar so vashou-vashou daar
uit met “Hier’s ek en alles wat moet toe wees is toe!!”
Profetiese woorde…want ek is nou al twee keer bespreek
vir optredes waar daar besonder baie mans was wat deur
die loop van die aand wou weet wanneer ek dan nou gaan
strip (hulle is wragtie nog vreesloser as ek)….Laat ek
dit dus sommer nou weer kategories stel: “PlatAnna” is
nie bedoel om ‘n suggestiewe verhoognaam te wees nie,
dis bloot omdat ek so plat op die aarde is (ek dra
lankal al nie meer hoë hakke nie en met my spesiale
vermoëns in naam-gat-maak, maak dit nie sin om
aansitterig te wil wees nie).
Aangesien ek ‘n ewige optimis is, wat altyd probeer om
die beste in ‘n slegte ding te sien, moet ek dus wonder
wat die voordele hieraan is. Ek kom tot die
gevolgtrekking dat die gatmakery dalk een van die redes
is dat mense dink ek is snaaks (jy weet nou egter van
beter), maar die grootste voordeel lê in my noodgedwonge
tekort aan vrees vir naam-gat-maak. Hoekom dink jy het
ek die guts om aand na aand op die verhoog te klim, te
sing, nonsens te praat en selfs (as ek regtig braaf voel)
kitaar te speel? Ek het (nie net die heupe nie, maar ook)
‘n vel dikker as ‘n renoster s’n ontwikkel en dis nie ‘n
slegte stukkie gereedskap om in die boks te hê as jy ‘n
uitvoerende kunstenaar is nie…
Die mense in Paul Roux het my selfs, na ‘n jaar, vir nog
optredes genooi, ten spyte van die feit dat ek en Die
Man seker nou nog die rekord hou vir naam-gat-maak in
daardie dorp……..Wil jy regtig weet?......Goed…….ek haal
toe mos die finale van die Sandsteen Fees Liedjieskryf
Kompetisie in 2004 en moet by die gala-aand my liedjie
sing. Daar aangekom, doen ons ‘n klanktoets, wat bietjie
langer vat as beplan (en wat my ook laat vermoed dat ek
in is vir nog ‘n naam-gat-maak sessie toe ek agterkom
dat Karen Hougaard en André Michael die ander finaliste
is). Die dame, by wie ons oorbly en moes gaan aantrek
voor die vertoning, verduidelik mooi vir my waar haar
gastehuis (net buite die dorp) is. Sy sê dat die sleutel
van die plek in die deur hang, ons kan net ingaan (die
misdaad-syfer is beslis laer as in Gauteng). Ons jaag,
met 45 minute oor voor ons weer by die saal moet aanmeld,
om te gaan aantrek. Nou ja, ek is vreeslik lief vir die
Vrystaat, maar met alle respek, die een stofstraat en
bultjie lyk nes die ander en toe ons by die derde
sandsteen-huis met ‘n rooi dak kom en ‘n sleutel in die
deur kry, begin ons uitpak. Na ons die aand se klere in
die kas gehang het, storm ek stort toe, om agter te kom
dat daar geen stort is nie. Ek bel die vrou en sy sê:
”Nee, ek weet nie in wie se huis julle is nie, maar die
regte een is ‘n kilometer terug”. Ons gryp so gou ons
kan ons goed en sluip ongesiens daaruit, kry die regte
plek ‘n kilo terug, stort en begin aantrek. Toe Die Man
egter sy pak soek, is dié nie in die tas nie….en ons
besef dit hang heelwaarskynlik nog in die vreemde mense
se plek (wat nie eens weet ons was daar nie). Ek kan net
dink wat die arme ou, wie se plek dit was, se eerste
gedagtes was toe Die Man aan sy deur klop en sê:
“Ekskuus tog, jy ken my nie, maar my pak klere hang in
jou kamer….”
|