a


Anna, die bek van Bitterfontein, vertel oor die vreugdes en frustrasies van musiek maak:

8 Januarie 2007:
Dis heerlik om terug te wees in Villiers, maar ja, munisipale- (of enige ander) infrastruktuur is nou nie  exactly top priority hier nie. As gevolg van gedurige power surges het ek onophoudelike PC-probleme gehad en dan moes alles eers weer Pretoria toe om reggemaak te word (baie dankie aan Popular Demand, ons IT sponsors), daarom die lang stilte.
Die September gigs by Steak and Ale was great (wat 'n voorreg om deel van die Nuwe Kop, Oopkop, Gatskop gigs te gewees het!) en dan was daar ook Gariep kunstefees. ..Alhoewel Gariep darem minder van 'n nagmerrie as KKNK was, begin ek egter te wonder hoekom ons nog bother met "kunste"-feeste. Daar bestaan nie meer so so iets nie; dis nou net flea-markets en ge
ëikte covers songs oor en oor. Die regte kunstenaars en bands kry nie naastenby die aftrek, wat 'n flossie of hunk in stywe kleertjies met nie een original song in sy/haar repertoire kry nie. Die Gatskop stage (net bands) het omtrent 'n kwart van die audience van die meer kommersiële stages gehad. Be afraid for our culture...be very afraid...Boonop lyk dit my of die organisers nie 'n clue het watse musiek wie doen nie. Om ons en Klopjag tussen Stefan Ludik en Thys Die Bosveldklong te boek, maak nie juis vir great continuity nie. Wil egter veral die Klipdrift verhoog bedank vir die lekker kos en drankies en veral omdat hulle die savy gehad het om ons, Melktert Komissie en Jan Blom in opeenvolgende slots te plaas. Dis mos hoe dit werk met eish.
Kimberley  is een van die weirdste plekke wat ek al in was. Die mense is vreeslik nice, maar niemand kon my verduidelik hoekom die Groot Gat (maar net die dorp se grootste toeriste attraksie) tydens die dorp se grootste fees toe is nie, of hoekom die oudste hotel in die plek net 'n stukkie van die original bar en 3 ou foto's oor het en verder  in gomgat-formica-styl gedecorate is nie. As dit nie vir die eienaar van die Gossip Lounge (en sy killer breakfasts) was nie, sou ek sweer niemand voel iets vir die town se roemryke geskiedenis nie.
Tussen deur het ek en Bobby (van Jaarsveld) ons sinusse toegegooi met medisyne en ginger-brandy (daai goed gee enige iemand 'n stem vir at least 15 minute). So ten spyte van wat die celebrity-gevulde audience (ek kon nie altyd my cool hou en nie staar nie) in Emerald Casino gedink het:  ek kan actually perform sonder dop (en doen gewoonlik), maar na die bekrompte smokersroom, moes ek na elke song maar keel natmaak met genoemde ginger brandy.
Sal die 94.7 Stero inbellers nou maar oor hulself kom? Die hele land het op Kwela gesien dat Villiers nie die "simpelste plek in die land" is nie! Ons coolste crazed fan Linda, sal een van die dae "I love Villiers" en "My family went to Villiers and all I got was this lousy t-shirt" t-shirts beskikbaar stel ;-)... Ek weet niemand glo my nie, maar die res van die band het ook actually tydens die onderhoud gepraat (ja, ja ek het, soos gewoonlik, verbal diaree gehad), maar dis nie my skuld dat die insetsels te kort was om alles uit te saai nie...en die meeste van Villiers glo my ook nou nog nie dat Solo wel met sekere mense praat nie...
Die band het in November en Desember bietjie moes terugstaan vir studiowerk vir ander kunstenaars (ons bedryf ook 'n sound studio) en ek 'n gebreekte stuitjie nurse (you don't want to know, lees hier meer oor die simpel goed wat my gedurig oorkom), maar ons jeuk al weer vir 'n lekker gig, so ons check julle binnekort met die tunes!

17 Junie 2006:

Okay, sorry....die bek was bietjie lank stil. Daar het so baie gebeur dat ek actually vir 'n paar maande meer gedoen as gesê het :-).
1) Ek en die Morkels het ons 1ste CD saam, Halleluja Suid-Afrika, opgeneem en uitgegee. Snippets van die CD kan hier gehoor word. Dit sluit ook "daai song van die kolliehonde", soos mense na dit verwys vanaf die Steve show , in (song se naam is eintlik Rooikappie & Die
Wolf). Ons bedryf ook nou ons eie opname ateljee onder "Gypsy Musiek" en het dus tussen die 3 van ons alles, tot die opnames van die CD, gedoen.
2) Ons het 'n helse traumatiese KKNK2006 deurgemaak. Dit was maklik die swaks-georganiseerde fees wat ek al by was. Waar mens vorige jare tussen happy feesgangers deurgeskuur en in toue gestaan het, het ons ons hierdie keer 'n paar keer alleen in 'n biertuin bevind (nogal terwyl ander kunstenaars daar optree). Ek weet nie wat die organiseerders besiel het om dit nie oor paastyd, soos gewoonlik, te hou nie en met nog 'n klomp mense wat geboikot het, ondermeer oor Polisiekar se deelname, was die opkoms swakker as by 'n AWB saamtrek in Soweto. Om alles te kroon word my huis ook toe by ingebreek en alles, tot die groceries, gesteel, terwyl ons daar is. Ek kry toe hierdie heugelike nuus terwyl ek sit en wag om 'n radio onderhoud te doen, Skuus outjies, ek sou nog aangegaan het as hulle my net besteel het, maar toe ek hoor die slym het ook my 1 katjie doodgemaak, was ek net nie meer lus om "Halleluja Suid-Afrika" met 'n smile op my gesig te sing nie. Ons het dus die volgende dag ons verdere optredes gekanselleer en die dag daarna teruggery. Dis in elkgeval nie asof dit die moeite werd was om verder in daai temperature van 40+ op Oudtshoorn rond te foeter nie.
Die enigste nice van KKNK was die Schoombie's se huis in Grootbrak, wat hulle vir ons geleen het. Dankie julle, dit was pleister vir die siel en hitte. Anyway, ek is darem nou al oor die egste hartseer, maar is nog steeds die hel in en al ignoreer die SAPD my flat, sal ek hulle pes tot hulle results kry (ek moes aanvanklik hulle wit lek net om die vingerafdrukke te kom neem - wat nou nog nie verwerk is nie - en ander evidence, soos een van die Mugu's se skoene wat hy in my huis gelos het, te vat en hulle het ook nog nie eers met die ooggetuie gepraat nie).
3) Dan het daar darem ook 'n goeie ding of twee intussen gebeur. Die beste van die lot is Solo, ons nuwe lead guitarist. Hel, die man is ongelooflik op 'n kitaar en kan boonop nog bekfluitjie en konsertina ook speel. Ek is al van 2004 met hom pelle, maar hy was voorheen
in 3-Ply (Villiers se grunge band, wat nou opgebreek het), so ons het nie aanvanklik gedink hy sal wil boererock maak nie. Turns out he's great at it en het dadelik ja gesê toe ons hom na KKNK nader. Ons neem binne die volgende maand 'n nuwe demo saammet hom op, sodat mense die nuwe sound kan hoor. Met hom by, het ons nou ook nie meer nodig om support tracks te gebruik nie, wat in elk geval altyd klank probleme veroorsaak het, en kan nou alles live op stage doen. One-track Johanna doen nou bass en backing vocals, met DG steeds op dromme en ek op rhythm kitaar en vocals.
Nou ja, afgesien van die feit dat ek maar net nie lekker in die stad aard nie, raak ons studio nou ook baie besig en ek is weer single, so dit maak vir my sin maak om terug te trek Villiers toe. Ek is amper klaar gepak en sal van 1 Julie af weer my intrek in 'n lekker groot ou huis daar neem. Hopelik kry die "Gypsy" in my nou rus, want ek raak nou finally effens fed-up vir trek ook.
Check julle met die tunes en 'n smile wat amper weer net so groot is soos dit in Rapport was (dit was nogal histeries toe ek by my slot op KKNK daai oggend opdaag en mense groet my met 'n Rapport-voorblad in die hand- ek het geweet dit kom, maar nie wanner nie - en daar trek ek bek in al my rooi en lemmetjie-groen glorie).

22 Januarie 2006:
Hoop julle het 'n great Krismis gehad en dat 2006 die beste jaar ooit is.
Nou ja, ek en die 2-Year Guarantee Band skop toe die jaar af met 'n Vrydag die 13de gig op Tzaneen. Dis vrek warm daar, maar die jols het geen einde nie. Ons het 4:30 Saterdag oggend by ons gastehuis aangekom en tot 5 uur in die swembad gelê, voor ons kon gaan slaap.
Vind ook op hierdie trippie uit dat Ronnie, ons klankman, 'n ongelooflike kennis van plante het, maar D/G Drommer en One-track Johanna was toe 'n paar maande gelede ook saam met hom in die Wildtuin, so die sarkasme in die lyn van "gaan ons nou weer hoor watse plant onder elke olifant se agterstewe uitloer", van D/G se kant af, het my en Johanna goed entertained gehou op die 6 ure rit. Die 2 is so te sê bloedbroers, maar blykbaar sien D/G ook nie kans om met Ronald 'n kamer te deel nie, al is Tzaneen so geil dat die balke wat R saag heelwaarskynlik sal groei. R het egter sy revenge gekry deur ons te try afcut met musiek elke keer as ons die woord "Cheetah" mention (hy's amper 'n groter Blou Bul-ondersteuner as Steve).
Het die "Dis hoe dit is.." uitsending saammet die band in Villiers gevier. Ons is dalk nou volkshelde in die Vrystaat, want van ons eerste terugvoerings was 'n van laaitie by die kerk met "Hallo Tannie, Tannie het Steve darem lekker getune met die rugby, né!".
O ja, 'n dogtertjie by Ou Poot (restaurant in Balfour) het my ook sommer, so met die vurk oppad na my mond toe, in die restaurant gevra om 'n song te sing. Jammer meisiekind, maar ek dink ek sou nog meer "volksvreemd" voorgekom het, as ek daar in song sou uitbars.
Het weereens besef wat 'n amazing onderhoudvoerder Steve is. Die gewraakte "naam-gat-maak" verwysing het sy oorsprong uit 'n artikel van my wat in Vonk gepubliseer was. As jy "vreesloos" genoeg is, lees die hele artikel hier. Dalk kan ek die artikel extend met die die show as episode?
Ons CD vorder. Sy titel gaan "Halleluja Suid-Afrika" wees, en ja, die volle Cheetah-song sal daar op wees. Ons hoop om die baby begin April die lig te laat sien (wie stoot so? :-).

22 September 2005:
En daar kry ek toe laas Vrydag die uitnodiging in my mailbox om op "Dis hoe dit is...met Steve" te verskyn! Die opnames geskied op Sondag 6 November by die Barnyard Theatre in Alberton, as jy belangstel om in die audience te wees. Het geen idee wanner dit uitgesaai gaan word nie, maar dit sal heelwaarskynlik eers volgende jaar wees en ek sal julle op hoogte hou. Aangesien ons binnekort met die opnames van my nuwe CD (saammet Die 2-Year-Guarantee Band) begin, het ek dit goed gedink om ook vir die program saammet die band op te tree. Omdat ons tot dusver nog net 'n studio band was, begin ons Vrydag met intensiewe rehearsals. Die volgende CD word ook saammet die band gemaak en ons hoop om dit vroeg in 2006 beskikbaar te stel.
Intussen het ek ook op die soapbox www.litnet.co.za (Die Coning se los tong en ander fabels) en www.kraaipromosies.co.za (Ope brief aan Jacques de Coning) geklim oor die frustrasies van onafhanklike kunstenaars en record labels. Alhoewel ek mal oor redeneer is, is ek nie regtig een vir fight nie. Ek het egter hierdie keer gevoel om my bek te rek, want ek is relatief fed-up vir die persepsie, wat deur die media geskep word, dat slegs kunstenaars wat by record labels is kwalitieit luisterstof bied. Soos ek ook in my bydraes noem: Die record labels het die volste reg om hulle finansies agter hulle kunstenaars te gooi (hulle het after all hulle besigheid in 'n vryemarkstelsel opgebou), maar ons verloor baie talent in hierdie land, wat eenvoudig opgee, omdat hulle nie blootstelling op radio, TV en in publikasies kan kry as hulle nie deur 'n groot record label werk nie (daar word in meeste gevalle nie eers na hulle CD's geluister vir oorweging deur die media nie). Bemarking is natuurlik vir 'n muso net so belangrik soos dit vir enige ander besigheid is, want hoe gaan jy 'n bestaan maak as niemand van jou weet nie? Anyway, lees maar die discussions op die sites. Ek moet natuurlik net kategories state dat ek nie hier betrokke geraak het net ter wille van myself nie. Omdat ek ook 2 ander SA music sites run en vir ander kunstenaars liedjies skryf, kry ek nogal baie te doen met die frustrasies wat verskeie kunstenaars ervaar. Dit maak my nie 'n bof nie, maar ek voel baie sterk oor SA se musiek talent (gesign of ongesign).
Okay, klaar gepreek.
Check julle met die tunes, soos altyd.

12 Augustus 2005:
Ek het die operasie oorleef en trek weer 27 Augustus by Pretoria Skou weg met optredes. Het nog nooit in my lewe so baie geslaap en rondgelê , soos hierdie afgelope 4 weke nie; dit mag dalk baie lekker klink, maar glo my, vir 'n Virgo is dit nie, want ons lê mos heeltyd en wroeg oor alles wat nog gedoen moet word.
Moet net eers brag: Steve Hofmeyr het my jaar gemaak.....iemand stuur nou die dag vir my 'n link na 'n interview met Die Steve op Litnet (die interview is al 9 Junie geplaas, maar ek is mos altyd die laaste om te weet wat oor my gesê word). Nou ja, die stukkie wat my hartjie
baie bly gemaak het, as volg:
"Litnet: Na watse tipe musiek luister jy?
Steve: Plaaslike demos. Tot vervelens toe. Meesal Afrikaans maar ongelukkig baie min wat uitstyg. Die bênds is steeds boring digters in Emin en die backtrackers steeds klone in E maj. Ek’s bly dit bly moeilik om dit te maak. Ek luister tans weer Wagner se duette afgewissel deur Rammstein, KORN, Mafikizolo en Krisstofferson. Jirre, Afrika maak jou skitzo.
Litnet: Luister jy na Afrikaanse musiek (gedink jy gaan wegkom met die ene?)
Steve: Ja. Onlangs deur Bacchus Nel, Platanna en Nicolis Louw beïndruk. Ek probeer Blohm se
CD voortrek oor al sy toekennings, maar dis net sy lewende energie in aksie by die GMT’s wat my bybly. Soos die vorige messiasse, sal hy moet oplyn agter Mel Botes, ddisselblom en Riku waar ons almal reeds wag om die omtrek en lewensduur van hul “redding” en invloed waar te
neem en te kanoniseer. Ek kan nie sê ons is in slegte hande nie. Ek hoop net hulle word nie slawe van verwagtinge nie. Ralph kon ons iets daarvan vertel. "

23 Junie 2005:
Met 'n groot gejuig het ons toe die "In die kring van die digters"-CD gemaak gekry en die show gedoen. Die kort weergawe is dat ons tydsbplanning totaal moeder toe gestuur is deur 'n spike in Villiers se kragtoevoer Vrydagaand. Die gevolg was dat die studio se rekenaar se moederbord 'n gonner is en ons met ons vingers in ons ore sit en die bitter smaak met 'n paar doppe moes afsluk. Ek en June jaag toe maar die Saterdag deur Pta toe om rekenaar parte te vervang, Hennie (ons geduldige techie) laai vir ons alles oor die Sondag, ek neem my intrek vir die week en ons werk ons gatte af (tussen June en Derek se day jobs deur) vir die res van die week.
"PlatAnna en die 2-year-guarantee-band" se eerste projek was miskien nie tegnies baie geseënd nie, maar ek het finally my band gekry en sien uit na 'n lang pad saam. Die band bestaan uit: One-track-Johanna (June) - klawerbord instrumentasie en backing vocals, D/G Drommer (Derek) - dromme en tamboeryn...en die uwe op kitaar, voorsang en backing vocals.
Soos julle kan aflei is ons net drie en elkeen vervul meer as een funksie. Met lewendige optredes sal ons van die goed opneem as backtracks en elkeen een instrument lewendig bespeel. As ons planne uitwerk, sal die band se eerste amptelike live optrede saam in 2006 wees (ons moet nog oefen en sekere logistics uitwerk). Intussen sal ek voortgaan met solo optredes (met die band se instrumentasie as backtracks).
Snippets van die CD kan hier gekry word.
O ja...Weakest Link....soos vermoed, is meeste van my ligsinnigste uitsprake gesny (soos bv. dat ek vir een van die girls gevote het omdat ek gedink het "haar bustline is nie geskik vir family-viewing nie" ....dit was klaarblyklik ook dan die program editor se gevoel oor baie van wat ek kwytgeraak het :-). Die weirdste vir my was dat ek vreeslik serious gelyk het op die program....die frons en skewe nekkie was egter omdat ek my linkeroor moes draai om mooi te kon hoor (ek is 80% doof in my regteroor...great defect vir 'n sanger en songwriter om te hê, ek weet, maar soos julle weet laat ek my nie deur sulke minors afsit nie). Verder was die hele opname baie meer sports as wat dit gelyk het en ek kan julle ook verseker dat ek en Norman oor 'n paar doppe opgemaak het na die vuile wat ons op hom getrek het. Ek het ook natuurlik eers gisteraand vir die eerste keer gesien wat die ander na die tyd gesê het, so, Monika...jou ma se agterstewe...jou pa het nie beeste nie :-).

2 Junie 2005:
En die wiele bly rol...het Saterdag vir 'n totaal van 9 ure gesing (by 2 verskillende gigs). By die aand se gig het ek die voorreg gehad om die verhoog met Johan du Plooy (Project Fame) te deel. Man, wat 'n muso!!! Kyk die man is 'n rocker deur en deur en ons weet hy kan rock,
maar wat my flou gehad het is toe hy vir Fanie agtergrond-geluide begin maak op 'n impromptu rap en selfs probeer het om "lepel lê" op kitaar te speel. Wil nogal gedoen wees hoor...Baie dankie aan Carl, Fanie en Engela, dit was 'n great paartie!!!
Ek werk tans aan 'n gedigte projek met die voorlopige titel "In die kring van die digters" (dis 'n change vir my, wat gewoonlik in die kring van die spotters sit). Dis 'n opdrag-projek waar ek wysies vir bestaande gedigte gekomponeer het, maar ons gaan wel 'n CD van hierdie gedigte/songs maak. Weet nog nie hoe ver en wyd ons hom gaan verkoop nie, dalk net by optredes en op hierdie site. Die lekker van die projek is dat ons live instrumente gebruik (ek speel sommer self die ritme kitaar). Die volgende official PlatAnna CD se opname word
beplan vir Desember 2005, saammet dieselfde groep musikante (June en Derek Morkel, my 2-year garuantee band).
Ek sit tans sonder 'n landlyn, so updates en die beantwoord van e-mails gebeur maar baie sporadies. Wees asb geduldig, u oproep sal beantwoord word (eventually).
Soos julle seker by die gigs-seksie gesien het, moet ek tussen 12 Julie en 25 Augustus bietjie afvat - dis vir 'n operasie. Ek wens dit was kosmeties, maar ongelukkig nie, maar net die lyf wat se dele nie altyd wil werk soos hulle moet nie (ek gaan asb tog nie in detail ingaan oor die operasie nie -dis nie my idee van goeie geselskap nie).
Kyk gerus hoe maak ek 'n totale aap van myself op The Weakest Link op 22 Junie. Ek dood self om te sien wat hulle gaan uitsaai, want mens neem natuurlik vir ure op en net 40 minute word uitgesaai. Het ook geen idee wat die ander deelnemers van my gesê het nie, sal saammet julle kyk.
Check julle met die tunes!

29 Maart 2005:
KKNK 2005....
Ek kon ongelukkig net vir paasnaweek afgaan (a.g.v ander werk verpligtinge), maar van nou af is daar min wat my van KKNK sal weghou, so volgende jaar gaan julle genoeg van my kry om gatvol van te raak.
My verlange na die Klein Karoo (my pa het vir jare daar geboer) is ook altyd meer akuut as ek pas terug is daarvan af, maar sal maar moet vasbyt (ek hoop om Desember weer Kaap se kant toe te kan kom).
My algemene gevoel oor KKNK 2005 is een van overwhelming dankbaarheid...
Ek is nou nog in 'n daze oor die hoeveelheid CD's wat verkoop is en die amazing reponse van mense wat my optredes bygewoon het.
Ek sal nog vir lank giggel oor SW en sy crowd se doo-wap moves saammet "Armblankes" by die CDR verhoog, die gechant van "PlatAnna! PlatAnna!" by die Vonk verhoog, die gedansery op my musiek by die RSG verhoog en die uitdrukking op sekere mense se gesigte by die Klip inni Den en Kobus se Gat oor my lirieke.
Ek is nou meer as ooit tevore oortuig van hoe sterk Afrikaans is en hoe ontvanklik mense vir nuwe liedjies kan wees.
Baie dankie aan almal wat my laat voel het asof ek 'n bydrae het om te lewer tot SA musiek! Ek hoop ons gaan nog baie jols saam hê!

17 Januarie 2005:
Okay, die Worcester ding het toe nou nie uitgewerk nie en ons is nou weer terug in Centurion, my ou stomping ground, waar die man 'n beter job offer gekry het.
Ek gaan Villiers verskriklik mis (gigs in daai geweste sal natuurlik voorkeur kry, sodat ek ook kan gaan kuier). Die Villiers musiek movement woed voort en ek sal steeds daarmee ondersteun waar ek kan. Watch uit vir 3-Ply, Villiers se eie grunge-rock band en as jy ooit
'n bekostigbare CD opname, songs en backtracks soek, kontak vir June en Derek Morkel van DJ lirieke en musiek by 082 413 9221.
Met al die gerondvallery het ek natuurlik uitgemis op baie optredes oor Desember en Januarie, maar is nou weer volstoom aan die organise vir optredes in 2005.
Die Netstar gig was 'n jol saammet Die Campbels, Anke en Dezi (watch uit vir hierdie girl, sy het 'n ongelooflike talent vir sing en songs skryf). Baie dankie aan Nick, Analise en hulle span, wat ons almal soos sterre laat voel het.
Ek hoop die babbelas is oor en dat 2005 vir julle almal vol geld, musiek en vreugde sal wees!

27 Oktober 2004:
Ja, jammer julle. Die bek was bietjie stil die afgelope ruk, maar dis om goeie redes:
Ek en die langpad - Het by 'n paar lekker plekke gaan optree: Bloemfontein, Kriel, Nylstroom, Potgietersrus, Rustenburg, ens. Ai, dis nie net Beaufort-Wes nie, die hele SA is darem beautiful!
Ek en die Wander Lust - Haai, wee jy, ek kan ok maar net sowel 'n karavaan kry en dit huis noem. Na net 'n jaar in Villiers, trek ons nou Worcester toe. Die Man het 'n job daar gekry (ja, ek is 'n kept woman, want musiek betaal nog nie ten volle vir al my behoeftes nie). Nou
ja, die Vrystaat is mooi, die Provinsie-Previously-Known-as-Transvaal is mooi, maar ek is mos 'n gebore Kapenaar en mis die berge meer as wat Heidi doen, so ek is oppad. Uit 'n bemarkings oogpunt uit: Die enigste verskil is dat my booking rate vir die Vrystaat en die Provinsie-Previously-Known-as-Transvaal nou noodgedwonge meer sal wees.
Aan al die venues en radio stasies in die Vrystaat en die Provinsie-Previously-Known-as-Transvaal (okay, ek weet dit raak nou afgesaag, maar dis nog heavier om te sê Mpumalanga, Gauteng, Noord-Wes en Limpopo), wat my ondersteun het: Dit was 'n voorreg. Ek wens julle volgehoue sukses toe.
Aan al die mense wat saam op my musiek gejol het en CD's gekoop het in b.g plekke (dis darem bietjie bondiger) : Julle maak my hart so bly....Hop daai stêre so mooi in pas!
Aan al die studios, virtuoso's en agente wat my 'n musiek loopbaan help begin het: Ouens, ek wens ek kon julle saamvat, maar ek is seker ons gaan mekaar bly ondersteun.

22 Julie 2004:
Die groot nuus is dat my eerste CD, Ons is Oraait, nou beskikbaar is! Dis 'n EP met 7 oorspronklike liedjies en hy word verkoop teen R50 (sien, ek is nie net plat nie, ek is cheap ook :-).
Ek wil graag die volgende mense, wat met die produksie gehelp het, bedank:
1) Christo du Plessis - vir sy ure en musikale genie met die verwerkings
2) Wikus Koen - vir al sy moeite en briljantheid met die opnames en kitaar werk
3) Ben Wilmot van Hot Dot Print - vir die ekstra mooi maak van die omslag ontwerp en die spoed waarmee hy die print job afgehandel gekry het
Ouens, ek is julle ewiglik en inniglik dankbaar! Sonder julle hulp sou dit nie moontlik gewees het nie...
Dan wil ek ook vir Radio Panorama, Radio Kriel, Radio Ermelo en Radio Rosestad bedank vir die heerlike onderhoude en die feit dat hulle genoeg in my glo om die eerstes te wees wat die CD speel.
Ook 'n groot dankie aan almal wat reeds die CD by gigs gekoop het. Julle maak my hart so bly...dankie vir julle ondersteuning!
Ek is natuurlik ook druk besig met gigs en is steeds aangenaam verras met die response en feedback wat ek van audience members kry. Mense, dis hoekom ek musiek in die openbaar maak en nie net in my eie sitkamer nie....dis amazing om te sien hoe julle luister, dans en
saamsing en dis nog lekkerder as julle kom gesels na die tyd. Ek weet my looks en groot bek is seker partykeer skrikwekkend, maar ek is regtig skadeloos, veral as jy my met 'n J&B paai. :-)
Die volgende gigs is in Potgietersrus en Rustenburg. Kom se hallo as jy in die omtrek is.
Check julle met die tunes!

20 April 2004:
O, die liewe KKNK, KKNK, KKNK....
Wat ek heel waarskynlik reg gedoen het op KKNK:
1) Ons het by 'n dominee en sy gesin op De Rust gebly (so 35 km van Oudsthoorn af). Mevrou dominee maak die heerlikste ontbyte en het ons behoorlik op die hande gedra. De Rust was beautiful en 'n lafenis na elke dag se gewoel op Oudtshoorn. As jy ooit KKNK doen, probeer
verblyf kry by Chris (die dominee) en Marié Cronjé. Dis soos om vir pelle te kuier.
2) My songs en optredes het actually baie goed afgegaan. Moes selfs hier en daar langer slots doen (op audience aanvraag) en het die wonderlikste feedback gekry. Ek is natuurlik die verbaaste van almal hieroor, om nie van verlig te praat nie (dis nou omdat dit lyk of ek die
regte keuse gemaak het deur, as performer, by sarkastiese boere-musiek te bly).
3) Het by my beginsels gestaan en nie covers van oorbekende songs gedoen nie, net my eie goed.
4) Is gevra om vir 'n paar baie talentvolle performers songs te skryf.
5) Het die moeite gedoen om die lang grondpad te ry en toe nog 'n kilo te stap na die waterval by Oude Muragie, waar 'n ander padda (die regte soort wat in die water bly) my "herken" het met aankoms en toe die res van die tyd op 'n klip teenaan my gesit het (sulke goed tickle my vreeslik).
Wat ek defnitief verkeerd gedoen het op KKNK:
1) Ek het nie CD's gehad om te verkoop nie en mense het actually na elke slot daarvoor gevra.
2) Ek was nie bewus van helfte van die stages waar ek dalk slots kon gekry het as ek nie, soos gewoonlik, weer als op die laaste nippertjie try organise het nie.
3) Het te min foto's van optredes geneem (as die man wat die heeltyd foto's van my op die Vonk stage geneem het hierdie lees, kontak my asb, ek sal graag van die foto's by jou wil koop).
4) Het hopeloos te min gesien, want het (a.g.v. gebrek aan tyd en fondse) maar meesal by die free stages uitgehang.
5) Het te laat op daai afdag van my by Oude Muragie uitgekom.
6) Het elke dag die weer verkeerd opgesom en op warm dae met jeans en my suede jas oor die arm rondgeloop en op die dag wat dit gereën het en koud was een van my kleinste en dunste t-shirts aangehad.
7) Het by die Engen op Colesberg se Wimpy gestop vir aandete oppad terug. Ek kan nog nie samehangend daaroor praat nie, want ek raak naar elke keer as ek aan daai vuil, mislike manageress en koue, vrot kos dink.
My take van ander optredes wat ek gesien het:
The good - Wicus van der Merwe, Die Melktert Komissie, N3 -something (kan nie hulle naam onthou nie, net die vrou se ongelooflike stem en performance), Hi-5
The bad - As ek nog een keer in my lewe Loslappie hoor, is die kans vir blywende sielkundige skade redelik groot. Self Jacques de Coning, wat die eerste nuwe weergawe van die song uitgebring het (dis 'n ou traditional, vir die wat nie weet nie), het gesê hy wil dit nie meer sing nie. En dis nie die enigste cover wat tot vervelens toe gedoen is nie. Ag nee man, dis 'n kunste fees, kon mense nie meer kreatief en oorspronklik wees nie? To coin a DA phrase: "Suid-Afrika verdien beter"
The ugly- Daar was sowragtag "kunstenaars" wat gedink het passies en outfits is belangriker as om regtig te sing en saammet hulle CD's gemime het. Dis sulke con-artists wat die hele bedryf 'n slegte naam gee.

23 Maart 2004:
Kyk, hier in Villiers gebeur dinge wat musiek aanbetref. Hier is 'n recording studio, 'n booking agent, 'n ander solo kunstenaar en 'n band. Nou ja, ek kan alweer nie anders as om my vingers in elke pie te hê nie. Maak vir almal websites, skryf songs en helps selfs met production en backing vocals by die studio.
Het 6 slots by KKNK gekry en sien vreeslik uit daarna (sommer ook net weer om die Kaapse plekke te sien waar ek jare laas was).
Ek't mos besluit om 'n boeremusiek CD te maak en het Christo van Lente-oes Boere Orkes oortuig om vir my die backtracks te doen (het dalk iets te doen met die feit dat hulle van my songs op hulle nuwe CD wil sit). Hy is tans besig met die produksie van hulle nuwe album, so sy tyd is min, maar hy het darem vir solank 2 gemaak vir KKNK. Die ander sal seker oor so 'n maand of 2 gemaak kan word.

19 Februarie 2004:
Ek geniet my absoluut gate uit in Villiers, dis die niceste en mooiste plek en ek mission op my eie planeet hier rond.
Het besluit om my ander kommersiële dienste uit te gooi en konsentreer nou net op musiek en teks skryf.
Het ook einde Januarie vir 'n liedjieskryf kompetisie in geskryf en is toe sowaar een van die 3 finaliste (uit 72 inskrywings landwyd). Karen Hougaard het gewen, maar ek is redelik impressed met my self, want ek het 'n paar groter name geklop om 'n finalis te word.

17 Desember 2003:
Raai wat doen ek terwyl julle vakansie by die see hou? Ek trek....en nie sommer net om die hoek in my gewone milieu rond nie, nee ek move na die kleinste dorpie wat ek tot dusver gesien het...Villiers in die Vrystaat. Het onlangs daar gaan optree by ‘n private function. Dit was die Donderdag....teen die Vrydag is die besluit geneem en van 5 Januarie af operate ek in die platteland.
Ja, ek was maar nog altyd bekend vir my gat-oor-kop besluite, maar hierdie een voel reg. Ek is fed-up vir die stad en die gewone manier van doen en nou gaan ek in my droom huis bly. Dis nou daai tyd van my lewe wat ek die kans gaan vat en doen waarvan ek hou in 'n omgewing wat my pas.
Wat die songwriting aanbetref, gaan ek voort om vir alle genres te skryf (is ook gevra om songs vir 'n bekende boeremusiek orkes voor te lê).

4 September 2003:
Piketberg was groot avonture met die kombi se ratkas wat ingegee het, Robbie Klay se "Radio H", wat van die moeg en frustrasie van ure langs die pad so bietjie gelig het en daai Piketbergers wat langarm moves gooi soos ek lanklaas gesien het.
Die naweek was mooi met die groene en bloue van die Kaapse landskap en die aksente uit my kleintyd (ja, ek kom van die Wes-kaap af), maar dit was ook lang nagte en lang ritte.
More vat ons weer die pad Naboom toe, seer keel of te not.....ja, ek klink al weer soos Rod Stewart met 'n konsertina, maar dis nie asof ek my van sulke klein dingetjies laat afsit nie....

6 Augustus 2003:
Ek het Vrydag my nuwe kitaar gekoop!!! Ek spring nog elke keer, as ek na haar kyk, op en af en gil soos 'n kleintjie van exitedgeid (sy't nog nie naam nie, maar ek weet net dis 'n "sy").
Het die hele Vrydag rondgery om haar te soek en na Ovasions en Washburns en die vader weet wat als gekyk, maar die amazing kitaarspeler wat by Musica Instruments in Atterburry Retail Park werk, het dadelik, toe hy my hoor speel, 'n Cort voorgestel en toe die girl van die rak afgeruk. Een strum and I was sold.
Ek en Cas 'Plankies het haar Vrydagaand om die vuur ingewy met 'n vet jam session (van 7 uur die aand tot 3 uur die volgende oggend - ons was minder vars Saterdag oggend, met hoofpyne en seer vingers).

12 Junie 2003:
Die gigs begin meer raak en ek het nog 'n agent raak geloop wat vir my gigs wil boek, veral in die Gauteng area, maar ek moet natuurlik eers vir hom 'n demo ook gee om vir die venues voor te lê.
Dinge gebeur, so ek voel dis nou tyd om ook meer voluit te gaan vir die career as performing artist.
Om die dinge ordentlik te doen, kort ek 'n CD, posters, 'n music video en 'n nuwe kitaar en ek het nie self die fondse daarvoor nie. Ek is dus opsoek na sponsorship. Enige belangstellendes my kontak by platanna@gypsy.co.za (is ek nie besonder optimisties nie?!) en
ek belowe julle, julle sal waarde vir julle geld kry wat bemarking aanbetref (ek was nie verniet vir 7 jaar in verkope en bemarking nie).

Mei 2003:
Soos julle weet, het ek die rumour begin versprei dat ek songs kan skryf. Ek is skaars oor die verbasing dat ander mense ook dink ek kan dit doen en my actually daarvoor betaal, toe word ek deur 'n agent "ontdek" en nou doen ek al Saterdag my 4de gig.
Kyk, toe hy my nader en sê hy wil vir my gigs boek, het ek begin panic en histeries gegiggel, want ek het nie 'n band nie en kan nie goed genoeg kitaar speel nie, maar darem ook vinnig besef dis 'n kans wat ek moet gryp. Ek se toe net ja, dis reg... en figure na die tyd uit hoe ek dit gaan doen.
Na 2 dae se dink en panic en te veel sigarette, kom ek toe tot die gevolgetrekking dat net mense soos Anton Goosen (wat bands kan betaal en vir wie hulle tou staan) dit kan bekostig om snobisties te wees oor backtracks. Met 5 dae oor voor my eerste gig laat ek dus inderhaas backtracks maak en nou doen dit maar die ding. Ek sal nooit nee se vir 'n live band nie, maar is uit ondervinding nie baie optimisties oor die prospect van muso's kry wat bereid is om die pad deur duk en dun te stap nie.

April 2003:
Ek besluit toe mos om einde laas jaar my job te los om my eie ding te doen. As jy sonder geld (en dus luxuries) kan klaar kom en bereid is om nagte om te lê en budget uitwerk in plaas van slaap, beveel ek dit beslis aan.
Vir my sense of freedom en self-worth is dit egter amazing. Ek werk 10 keer harder, maar ek doen wat ek altyd wou en word actually 'n rand of twee daarvoor betaal.
Dis so lekker, ek het sommer my hare ook afgesny.
Ek is tans besig met recordings vir 'n nuwe compilation; "Roer". Ek het 7 van die songs op die album geskryf en sing twee self.
 

Webontwerp deur Gypsy Productions. Kopiereg op alle inhoud - PlatAnna 2006- 2007