WESPARK
Geagte Leser, dié
geleentheid
bied hom slegs een keer in 'n leeftyd:
geen waglys en geen woningnood
al is die aanvraag nog so groot.
U van en volle doopnaam pryk
op die versierde gewel - kyk,
met spreuk en kompliment kompleet:
die hele wêreld moet dit weet.
Hier is geen stoomfluit en geen haas;
onder die koelteboom lê klaas
soos waffer skofbaas uitgestrek,
kan selfs die afslaer asemskep.
In hierdie buurt is elke vrou
tevrede, elke man getrou,
het elke kind sy eie sandhoop,
vergeet die huwelikspaar van huurkoop.
Die staatsman liaseer sy sorge,
die bleek hervormer se verborge
wrok teen die mensdom is geberg,
die dweepsieke word ongeërg.
Die vrou aan wie die jare knaag
het haar weerkaatsing weggevaag,
die skaars ontloke skoonheid het
betyds ontglip uit die tyd se net.
Die koopman, sat van raap en skraap,
kan salig elke dag verslaap,
die skraal student hoef nou nie meer
sy jongste proef te formuleer.
As kliere opdroog, weefsel rek,
die kroonslagare noustrop trek,
kan u gerus oorweging skenk
aan hierdie geodbedoelde wenk.
Die eensames voel nooit alleen
in die wit broederskap van die been,
hier kan die digter sonder skroom
hom blywend toespin in sy droom.
Geen jaarlikse belastingheffing
op hierdie langtermyn belegging:
geagte leser, dié geleentheid
bied hom slegs een keer in 'n leeftyd.
Lirieke:
Gedig deur Elizabeth
Eybers
Melodie: ©
PlatAnna 2005
CD:
In die Kring van die Digters - PlatAnna & Die
2-Year-Guarantee Band
(Julie 2005)
|