Lyrics


PIETERSILIE BOELIEBIEF*

Pietersielie boeliebief
Adam het vir Eva lief
Kain die slaat vir Abel plat
met ‘n boerpampoen en ‘n soetpatat.
Klink die storie
dalk te dun?
dis nog net maar
die begin….

Mevrou Noag (goeie vrou)
se naam kan glad ‘n mens onthou.
Ek glo nie dit was Mybel nie;
dit staan nie so in die Bybel nie.
(Miskien was dit Damaris,
of ‘n ander naam wat naar is.)

Hoe die naam dan ook al sy –
in die ark moes sy ‘n lewe ly
tussen grilkrokodil en perdeby
en gore goggas in ‘n ry.
Gedenk dis maar die goeie vrou
met die voornaam wat ‘n mens onthou.

En die lot van Mevrou Lot
klink vir my ook bra verspot.
Haar hart was (glo my) goed soos goud,
Al was haar kos ‘n bietjie sout.
Ja, sy was ook (soos ek verstaan)
’n tante sonder eerste naam.
Maar sy was te nuuskierig,
Haar nek het sy gerek –
En nou is sy ‘n soutpilaar
Waar beeste aan kan lek.

En moet haar tog nooit ooit verwar
met die vrou van Meneer Potifar
wat vir Josef gevra het:
”wil jy my nie soen nie?”
Maar hy bloos en hakkel:
”Dit sal ek nooit doen nie!”
Toe sê sy: “my duifie,
Nou gaan ek jou druk!”
En hy sug en sê: “Tannie,
Jy’s te ongeskik!”

En dan kom Mevrou Moses
en as dit dalk ‘n troos is:
sy had wel ‘n eerste naam,
maar met alte goeie rede
was sy daarmee ontevrede
So ‘n naam wou niemand hê nie,
niemand wou die naam selfs sê nie!

Sy’t gemor en sy’t gekla:
“Die lewe is ‘n pyn!
Liewer bly ek veertig jaar
in Sinai-woestyn.
Al ons huise is vol luise
En ander goed wat spring
(‘n Padda bly vir my maar steeds
’n slymerige ding.)
Komaan Moses
laat ons trek
die sandwoestyn
is ‘n beter plek!”

Een en almal – sing tesame
van die tannies sonder die name!
Waar jy nou ook gaan of staan,
hef die lied met mening aan.

Pietersielie boeliebief
Adam het vir Eva lief
Kain die slaat vir Abel plat
met ‘n boerpampoen en ‘n soetpatat.

En maak dié einde
glad g’n sin
moet jy maar
van voor begin…


Lirieke: Gedig deur Philip de Vos
Melodie: © PlatAnna 2005

CD: In die Kring van die Digters - PlatAnna & Die 2-Year-Guarantee Band
      (Julie 2005)


* werkstitel - die gedig het nie 'n titel nie