Lyrics


DIE LOF VAN CHRISTEFORUS

Tussen geel, goor blomkoolkoppe,
Onder knoffel, prei en slaai,
Half-verlepte aspersietoppe
En kaas waaroor die vlieë draai;

Uit ‘n vuil nes van ‘n kraampie
In ‘n Genoaanse straat
het ‘n sletwyf jou met raampie
Vir honderd lire aan my gelaat.

Jou sirkel was gesalf met botter,
Spaghetti’t aan jou baard gekleef;
Jou kleed was vlieë-vuil: ja vrotter
Kon niemand lyk – jou staf was skeef.

Maar nou? Hoe seën ek jou vermomming,
Want anders het ‘k jou nooit gekry;
Jou luister stem my tot verstomming
En byna wil ‘k jou wierook wy!

Hoe straal jou silwer deur die emalje
So hemelsblou, granaatpit-rooi,
Hoe glinster nou jou kleed. Kanalje,
Wat daardie sneeu kon laat verdooi!

Geen gore geure meer vir jou nie,
Jy asem slegs die skoonste lug,
Want pryk jy nie waar jy als oorskou nie,
My vliegtuiig maak geen enk’le vlug!

Jy presideer oor instrumente,
Maar van almal staan jy bo;
In die warboel van patente
Is dit sleg jou wat’k alryd glo.

Ek sou wierook bring….maar die portrette
Daar teen die muur kyk dreigend neer
En my voorvaderlike wette
Laat my jou skaars met ‘n lied vereer.


Lirieke: Gedig deur Toon van den Heever
Melodie: © PlatAnna 2005


CD: In die Kring van die Digters - PlatAnna & Die 2-Year-Guarantee Band
      (Julie 2005)