a


Die Coning se los tong en ander fabels
(gepubliseer op Litnet)
 

En daar begin ‘n nuwe stryery in die Afrikaanse musiek….. Eintlik is dit al ‘n jare-lange twispunt, maar een wat tot dusver uit die publieke forum gehou is.

Nee, ek praat nie van die gekerm oor Jacques de Coning, die redakteur van Vonk, op Vonk se voorblad is nie ….ek het niemand hoor kerm toe die redaktrise van Hustler self kaal op die voorblad verskyn het nie - en dit sommer met die eerste uitgawe wat sy redaktrise van is….nee, daai’s die minste….

Jacques loop egter al vir die afgelope twee uitgawes van Vonk op baie dun ys met sy uitlatings in “So het ek mos gesê” (sy redakteursbrief)…. So erken Jacques, twee uitgawes terug, in alle Washington-I cannot-tell-a-lie-eerlikheid, dat platemaatskappye se kunstenaars voorkeur in sy tydskrif kry, vir die eenvoudige rede dat hulle die media finansiëel ondersteun…..en niemand sê ‘n woord daaroor nie, want hulle hoop Jacques wil maar liewer net sy bek hou en nie al die “trade secrets” uitlap nie.
‘n Maand daarna (in die einste uitgawe met die gewraakte voorblad) laat hy die ongetekendes se hare regop staan met: “As al die platemaatskappye in die land nie in ‘n persoon belangstel nie, dan moet daar mos fout by die betrokke persoon wees”….en dan doen hy ‘n beroep op die media om platemaatskappye se kunstenaars voorkeur te gee. Ek was redelik verward hieroor, want ek ken Jacques as ‘n ou wat almal ‘n kans gun…. en die platemaatskappye het nie juis ‘n tekort aan champions in die media nie.

Jacques, my dier, ‘n man wat egter so eerlik en uitgesproke soos jy is, mag maar die voorblaaie haal…..en dis seker nie net Britney s’n nie, maar ook jou “prerogative” om te sê wat jy weet……ek dink net jy het nou (met of sonder opset?) ‘n geveg in die liga van “backtracks versus live muso’s” begin.

Ek voel daarom gedwonge om die die saak so objektief moontlik te beskou en, soos ek in Filosofie op Universiteit geleer is, argumente vir beide kante te probeer vind.

Die saak vir Platemaatskappye-
1) Hulle het hard gewerk en goeie kommersiële keuses gemaak, wat hulle die bemakingsfondse gee om verdere kommersiële suksesse te verseker. Hulle wend hierdie fondse aan om kunstenaars te sign en te bemark wat ‘n baie goeie kans op kommersiële sukses het. Nie dat hulle altyd reg is hieroor nie, maar hulle hit rate is oor die algemeen goed.
2) In besigheid doen jy wat jy kan, met dít tot jou beskikking, om die grootste moontlike porsie van die mark te verkry. Dit mag lei tot wat ander, met minder tot hulle beskikking, as onregverdige besigheids-praktyke beskou, maar kom ons wees eerlik: die platemaatskappye is nie Telkom nie, hulle het in ‘n vrye mark met ‘n gelyke speelveld begin. As hulle dus meer kontakte en fondse het om bemarking mee te doen, beteken dit bloot dat hulle ‘n suksesvolle besigheid opgebou het oor die jare.
3) Platemaatskappye is voorskrywend aan kunstenaars oor materiaal, omdat hulle voel hulle het die kennis van die mark om die grootste kommersiële sukses te verseker. Ook nie dat hulle altyd reg is hieroor nie, maar hulle hit rate is weereens goed.

Die saak vir die onafhanklikes-
1) Die publiek word deur die media geïndoktroneer om te glo dat slegs platemaatskappye se kunstenaars goed genoeg is om na te luister, want onafhanklikes word meesal geïgnoreer as dit by keuring vir blootstelling by sommige radio stasies, TV-programme en publikasies kom. Die onafhanklike kunstenaars vra nie om dít wat die platemaatskappye voor betaal gratis te kry nie, maar speellyste, blootstelling en ‘n regverdige keuring behoort nie as ‘n kommersiële produk deur die media verkoop te word nie (dis waarvoor daar betaalde advertensies is). Onafhanklikes wil net hê dat die media ten minste na hulle CD’s luister en dan besluit (in plaas van dit eenkant op ‘n hoop gooi, omdat dit nie van ‘n platemaatskappy af kom nie).
2) Nie almal stel belang in platekontrakte nie. Volgens Raymond Greenberg, van Kraai Promosies, val die proses van platemaatskappye nader nie in almal se smaak nie. “Ek, as mede Afrikaanse kunstenaar, stel glad nie belang daarin om ‘n platemaatskappy te nader nie, omdat ek skeppende werk wil lewer, wat nie altyd noodwendig kommersiëel is nie. Kortweg, my musiek is nie gemik op die breë mark nie. Het jy geweet dat Amanda Strydom ook nie verbonde is aan ‘n kommersiële label nie?” Baie kunstenaars voel dus dat hulle kreatiwitieit onderdruk word deur platemaatskappye, wat se hoofdoel is om kommersiële sukses te versker.
3) Die platemaatskappye bied nie noodwendig aan nuwe kunstenaars wat hulle benodig nie. ‘n Eerste platekontrak lyk tipies so: Die platematskappy kies die liedjies wat jy moet opneem, jou musikante en die opname ateljee….. en betaal daarvoor, doen jou CD ontwerp, druk en kopiëring…. en betaal daarvoor - en so word jou rekening by hulle geopen. Want sien, hulle werk eintlik net soos ‘n bank, hulle skiet jou die geld voor en jy betaal elke sent terug (uit CD verkope en jou eie sak). Party help jou bietjie met bemarking, maar ander stop jou net ‘n CD en ‘n rekening in die hand en sê: “Laat dit juig….geen bemarking vir jou voordat jy 10 000 CD’s verkoop het nie.” Dít, volgens my, maak nie sin nie, want as jy 10 000 CD’s verkoop het, het jy die bemarking baie minder nodig as toe jy nog nie een verkoop het nie. Met ander woorde: Jy maak skaars ‘n sent uit die kontrak met ‘n platemaatskappy en dalk ly jy nog ‘n verlies ook. As onafhanklike kan jy rondkyk vir die beste produksie kwalitiet wat jy kan bekostig en jou finansiele risiko aansienlik verminder.

Nou wat staan ‘n nuwe kunstenaar te doen?
Hier is die voordele en nadele, soos ek dit sien, besluit maar self.
1) As jy onafhanklik is, kry jy ‘n groter stuk van die pie, maar die pie vat baie lank om gaar te word en die vulsel is maar min, want ‘n getekende ou kry meer gigs, teen beter fooie, as gevolg van beter blootstelling.
2) Jy kan baie bemarking vir min of geen geld doen, as jy vindingryk genoeg is, maar bitter min kunstenaars is ewe talentvol met musiek én bemarking.
3) As jy VAN musiek wil lewe, is jy in die verkeerde beroep, as jy VIR musiek wil lewe, het jy ‘n kans. Op die ou end gaan dit nie oor die geld wat jy kan maak nie, maar bloot oor die idée van genoeg maak om nie iets anders ook te moet doen om die pot aan die kook te hou nie. As eienaar van drie SA Musiek webwerwe, kry ek baie e-pos met die strekking: ”Ek wil graag sing, waar moet ek begin?” Ek het al ‘n standaard antwoord geformuleer: “Gaan dink mooi oor hoe graag jy ‘n musiek loopbaan wil hê, of jy daarsonder kan lewe - en indien jy nie kan nie, wat jy bereid is om daarvoor op te gee.” Dis hard, maar dis waar; my ervaring is dat die musiek self hoogstens 30% van ‘n musiekloopbaan uitmaak, die res is administrasie, bemarking, ens – dinge wat in enige ander besigheid noodsaaklik is. Jy kan dit óf self doen, of ‘n platemaatskappy kan sommige van die las verlig.

Webontwerp deur Gypsy Productions. Kopiereg op alle inhoud - PlatAnna 2006